HOË AKADEMIESE STANDAARD

Die navorsing wat in 2000 en ook in 2005 gesamentlik deur die WNNR, UNESCO en UNICEF gedoen is, het bevind dat staatskoolkinders in Suid-Afrika baie swak vaar. Moria Tuisskoolmateriaal is daartoe verbind om akademiese standaarde weer terug te bring tot die vlakke waaraan ons voor 1994 gewoond was. Inhoude word ook bygewerk en gedurig opdateer. Vakinhoude is vir ons belangrik en nie net vae sogenaamde uitkomste wat inhoude verwaarloos nie. Elke kind se eie unieke potensiaal (sterk of swak) word ontwikkel en daar word dus nie net gekonsentreer op uitkomste wat ‘n groep leerders gesamentlik behaal nie.

Waarom ‘n hoë standaard?

Waarom is dit belangrik dat die onderwys van ons kinders op ‘n hoë akademiese standaard geskied? Waarom kan ons nie maar, saam met die algemene tendens in (Suid-)Afrika, standaarde laat val nie? Die standaard van onderwys in Suid-Afrikaanse skole asook ander privaat onderwysstelsels is tog nie só laag nie. Indien my kind se akademiese standaard soveel hoër is as die res van die klas by ‘n Suid-Afrikaanse universiteit, kollege of enige ander naskoolse opleidingsentrum, sal hy mos uit pas wees en dit sal hom niks baat nie?

Hierdie redenasies is ver van die waarheid en kortsigtig. Die wêreld het klein geword. Baie jongmense verlaat Suid-Afrika om oorsee te gaan werk vir ‘n paar jaar of selfs permanent. Dit sou dwaas wees om u blind te staar teen ‘n minderwaardige akademiese kwalifikasie net omdat die hoofstroom in Afrika daarmee tevrede is. Indien u kind oorsee beland sal dit hom bevoordeel indien ‘n toelatingstoets vir verdere studie of die keuringstoets tydens die aansoek om ‘n betrekking, toon dat hy akademies bo die vereiste is en ver beter as die ander kandidate presteer. Selfs al bly u kind in Suid-Afrika, sal die beter opgeleide kind, in sy beroep, vir die res van sy lewe ‘n voorsprong bo sy portuurgroep hê. Elke Christen besef ook dat die Here wil hê dat ons hard moet werk om die hoogste sport binne ons vermoë te bereik. In die tuin van Eden het ons reeds opdrag gekry om hard te werk. Verder sê Salomo: “… gun jou oë geen slaap en jou ooglede geen sluimering nie … Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys! Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie … Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag”.

Dít is die rede waarom Moria Tuisskoolmateriaal net die beste materiaal van hoogste akademiese standaard voorsien. Al is die standaard hoog, kan ook enige gemiddelde leerder dit met harde werk bemeester. Daar word dus geen onbillike eise gestel nie.

Ons besef dat die akademiese standaard van die Suid-Afrikaanse Onderwysdepartemente in die verlede uitstekend was. Dit was deur deskundiges ontwikkel, op eie bodem beproef en het verskeie vakkundige wêreldleiers opgelewer. Ons neem dus die vroeëre nasionale kernsillabusse as akademiese vertrekpunt.

Watter standaard?

Ons ontwikkelingspan is u itstaande vakkundiges, terapeute, laerskool- en hoërskool vakonderwysers, skoolhoofde, hoofeksaminatore van matriekvakke, vroeëre superintendente van hoërskoolonderwys en universiteitsprofessore. Ons werk aan die leemtes in die “ou stelsel” en vermy die probleme van bestaande stelsels. Verder doen ons moeite om Europese hoërskool sillabusse te bekom, om te verseker dat ons op standaard bly en dat Moriakwalifikasies aanvaarbaar sal wees by binne- en buitelandse universiteite. Ons behou die standaarde soos in Europa vereis en is ver bo die Noord-Amerikaanse staatskoolstandaarde.

So ver moontlik gebruik ons die goeie materiaal wat ontwikkel is in Suid-Afrika, maar waar leemtes ontstaan, skryf ons nuwe boeke. Die eertydse skool sillabusse is oor baie jare ontwikkel en handboeke is geskryf, deur die beste vakkundiges in die land. Dit sou dwaas wees om sulke werk voor die voet te vervang met nuwe aantekeninge wat opgestel word deur enigeen wat beskikbaar en gewillig is, soos deesdae meestal die gebruik is. Op skoolvlak word beginsels vasgelê en beginsels bly onveranderd en verouder nie. Wiskunde se desimale breuke sal byvoorbeeld nooit verouder nie.

Afrikaans word ook as eerste taal aangebied met al die nodige fasette. Prosa word gekies uit die keur van behoudende Afrikaanse werke. Voorgeskrewe werke wat Christelike norme en standaarde en ‘n Bybelse lewens- en wêreldbeskouing vaslê geniet voorkeur. Dit veroorsaak dat ons leerders uitstyg en internasionaal kompeterend is. Dit gebeur dan ook gereeld dat Moria-leerders wat die gewone departementele matriek skryf, die “dux” (beste presteerders) van hulle graad word.

Indien leerders Moria se sillabusse behoorlik voltooi het, was die leerders minstens ‘n akademiese jaar voor hulle portuurgroep en het hul gewoonlik as toppresteerders in die openbare eksamens gefigureer.

Ander alternatiewe

Soms besluit ouers op algemeen beskikbare, netjiese boeke in boekwinkels. Dit verskil nie van die staatskoolboeke nie. Dié opsie is dalk goedkoper, maar soms lukraak gekies, sonder akademiese kontinuïteit van jaar tot jaar en sonder die versekering van akademiese standaard. Ouers het geen beheer oor die vakinhoude, soos eksplisiete seksonderrig wat in baie van hierdie boeke hanteer word (soms met beeldmateriaal), godsdiensbenadering of kultuursentiment nie. Kinders kan maklik in ‘n geloofs- en of kultuurkrisis beland omdat baie boeke deesdae uit vreemde kultuurperspektiewe of onaanvaarbare godsdiensbenaderings geskryf word. Die boekies is gewoonlik dunner, makliker en vol prentjies en grappies.

Nog ‘n ander alternatief is om leerstof in kort eenhede te hanteer wat gereeld met maklike invul-vragies getoets word. Leerders word wel hierdeur positief gemotiveer want die werk is min en word op ‘n lae vlak behandel. “Goeie” toetspunte en ‘n vinnige vordering deur die jaar se werk is vir die leerder vet pret. Geen diepgaande denke, beredenering en vermoë om te kan verduidelik, word egter onderrig of getoets nie. Omdat daar weinig eie denke van die kind verwag word, lei dit tot belemmering van redeneringsvermoë en kritiese evalueringsvermoë. Die beantwoording van kort, substandaard, maklike vragies, laat die foutiewe indruk dat leerders presteer, want hulle behaal hoë punte. Siedaar … weg met al die slegte harde werk - én weg is ook die puik akademiese opleiding, soos in die verlede.

Hulpmiddels en struktuur

Vir die Junior Primêre fase word o nderrighulpmiddels saam met die boeke verskaf. Kinders word aangespoor om nuwe kennis en vaardighede self te ontdek deur uitstappies te onderneem, verrykende nalees uit naslaanbronne te doen asook die ondersoek van fasette vanuit die werklike leefwêreld, terwyl die voordele van gestruktureerde onderrig deur die benutting van doelgerigte onderrigmateriaal (handboeke) behou word. Dit sluit in vinnige effektiewe leer deur ordelike en sistematiese ontsluiting van kennis. Betekenisvol meer werk word op dié wyse in ‘n jaar afgehandel.

Vir natuur- en skeikunde word mini chemie en fisika laboratoriumstelle, wat spesiaal vir die leerplan gepak is, addisioneel verskaf.