REKENAARGEBRUIK
Moria Tuisskoolmateriaal wend die
rekenaar optimaal aan vir die toepassings waarvoor dit bedoel is.
Sommige kinders leer al in die laerskool om die woordverwerker te
gebruik. Daarbenewens word leerders onderrig in sigblad verwerking,
databasishantering en skyfieaanbiedings met die rekenaar.
Ouers
dink soms dat onderrig op rekenaar in alle opsigte meer modern en
dus die beste is. Ons glo egter dat die onderrigstandaard benadeel
word wanneer ‘n rekenaar gebruik word as medium van onderrig,
om alle leerareas mee te onderrig. ‘n “Boek” met
net een "glasbladsy" wat met moeite op en af ge-”scroll”
word, kan soms frustreer. ‘n Klein tikfoutjie of alternatiewe
wiskundige bewerking, wat wel korrek is, word verkeerd gemerk want
dit stem nie in jota en titel ooreen met wat die rekenaar verwag nie.
Soms verloor kinders net moed daarmee. Die rekenaar kan wel kennis
toets maar begrip, toepassings, vergelykings en besprekings is moeilik
toetsbaar met die rekenaar en soms is dit onmoontlik.

'n Toetsuitslag van 80% kan dus misleidend wees, want slegs kennis is getoets. Soms ontstaan daar ook probleme met handskrifonderrig, spraakontwikkeling, logiese verbale beredenering van sake, fisika en chemie laboratoriumwerk en letterkunde. Oormatige gebruik van ‘n rekenaar kan ook ‘n nadelige invloed op die kind se oë hê. Verder besit min mense ‘n kleur rekenaardrukker, wat lei tot ‘n verlies aan aantreklikheid en kwaliteit drukwerk van onderrigmateriaal.