ONS PERSONEEL

Bestuur

Hannes en Helena staan voltyds in ‘n boekebediening wat Christelike, Afrikaanse skoolboeke van ‘n hoë akademiese standaard beskikbaar stel. Hannes is ‘n gekwalifiseerde veekundige (B. Sc. Agric). Hy het ook die H.O.D. deur UNISA behaal met 14 jaar onderwyservaring. Met sy uittrede uit die onderwys was hy vir 8 maande skoolhoof by ‘n hoërskool en daarna vir 6 jaar dosent in landboubestuur by die Landboukollege in Potchefstroom.

Helena is ‘n gekwalifiseerde onderwyseres met B. Sc. Hons. En B. Ed. (Onderwysbestuur). Sy het vir 9 jaar skoolgehou waarna sy deeltyds by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys klas gegee het vir voornemende onderwysers en by tye ook by die Tegniese Kollege rekenaarklasse aangebied het. Sy is die moeder van drie kinders waarvan die middelste dogtertjie Downsindroom-gestremd is. Dit het die grondslag gelê vir jare se ervaring in die sistematiese ontwikkeling van die kind se spraak-, fyn- en groot motoriese vaardighede.

Professor Pieter Stoker

Prof. Stoker is ‘n vermoënde man. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Gimnasium, Potchefstroom, behaal die B. Sc. –graad aan die PU vir CHO met hoofvakke fisika (onderskeiding) en Wiskunde asook die M. Sc. in fisika met onderskeiding, aan die Universiteit van Kaapstad. Hy voltooi sy studieloopbaan in 1952 toe hy aan die Vrije Universiteit van Amsterdam, tot Doktor in natuurkunde promoveer. Hy word in 1952 Senior Lektor in Fisika aan die PU vir CHO en later professor. In 1977 word hy Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe. Prof. Stoker is tans baie nou betrokke by navorsing op Antarktika oor kosmiese strale.

Afrikaans

Dr. Charles van Aardt was ‘n steunpilaar in die vorige Onderwysbedeling. Hy was verantwoordelik vir feitlik alle navorsing en ontwikkeling in die skoolvak Afrikaans. Vir Moria is dr. van Aardt die voorsitter van die kurrikuleringskomitee vir Afrikaans in alle grade en fasette.

Dr. van Aardt behaal aan die PU vir CHO sy B.A., aan die Witwatersrandse Universiteit (Wits) by Prof. N.P. van Wyk Louw, B.A. Honneurs (met lof), aan die Randse Universiteit sy M.A., waar hy die Tafelberg Akademiese Toekenning ontvang vir besondere prestasie en by UNISA voltooi hy sy D. Litt. Et Phil. Dr. van Aardt word aangestel as skoolhoof by Standerton Hoërskool en Hoërskool Randburg en daarna word hy inspekteur van Onderwys in die TOD. Hy was ook Hoofinspekteur van Onderwys vir Afrikaans Eerste Taal, Afrikaans Tweede Taal, Duits Derde Taal en Drama by Dramaskole. Vir 35 jaar tree hy op as Hoofeksaminator in Afrikaans Eerste Taal en stel Hoërgraad en Standaardgraad vraestelle in Afrikaanse Letterkunde, Stelwerk en Taalkunde op. Later word hy interne moderator vir Afrikaans Eerste Taal. Hy was mede skrywer vir Afrikaans Erste Taal taalkunde- en letterkundehandboeke. Sy lewensbeskouing, “Vir Christus sal ek alles opoffer, want Hy alleen is my opstaan, gaan slaap en doen”, spreek van sy hartsgesindheid.

Afrikaans: Eksaminering vir Hoërskole

Die eksaminering van ons Afrikaans vir Hoërskole, word deur Marlis Taljaard hanteer. Marlis het aan UP studeer met Afrikaans, Duits en Musiek as hoofvakke. Sy het 15 jaar ondervinding as onderwyseres vir matrieks en 20 jaar totale ervaring as onderwyseres in Afrikaans. Tans is sy besig met verdere studie in Algemene Literatuurwetenskap aan die PU vir CHO, maar sy is ook skryfster van ‘n reeks Afrikaanse taalwerkboeke en verskeie gidse by matriek voorgeskrewe werke.

Afrikaans: Eksaminering vir Laerskole

Salomie Barnard is ‘n Potchefstromer in murg en been. Sy matrikuleer aan die Hoër Volkskool in Potchefstroom en studeer aan die Potchefstroomse Onderwyskollege waar sy haar Onderwysdiploma met lof behaal met die hoofvakke Noord-Sotho, Remediërende Onderwys en Liggaamlike Opvoedkunde. Sy studeer na-uurs en behaal haar B.A.-Graad aan die PU vir CHO. Sy is reeds 18 jaar in die Onderwys en is tans Departementshoof Senior Primêr aan ‘n laerskool in Potchefstroom.

Geskiedenis

Niel Maré behaal die B.A., B.A. (Hons.), en M.A. in Geskiedenis aan die PU vir CHO. Hy kwalifiseer homself verder in die Opvoedkunde en beskik oor ‘n T.H.O.D. (by POK), B.Ed. en is reeds besig met sy M.Ed. Hy doen ook ‘n verdere diploma in onderwysbestuur (VDO) by OKSA.

Niel is reeds 26 jaar in die onderwys. Hy is tans adjunkhoof by ‘n hoërskool in Pretoria en bied Afrikaans en Geskiedenis vir Graad 8-12 aan. Niel was hoofnasiener vir Afrikaans in die ou TOD, hy is ook interne moderator en senior nasiener vir Geskiedenis in Gauteng Onderwysdepartement. Niel tree ook op as buite-nasiener by Vista Universiteit se departement van Geskiedenis. By Moria is Niel die voorsitter van die kurrikuleringskomitee vir Geskiedenis vir alle grade en alle vlakke.

Engels

Cathy Gerber verwerf haar B.A. en HOD, asook VDO in Remediërende Onderwys. Cathy is lid van verenigings: S.A.C.E.; N.U.E.; komiteelid van die “South African Council for English Education” en koördineerder van die “Professional Teachers Support Group of Northwest”. Cathy is Engelssprekend en onderrig Engels Eerste Taal vir meer as twintig jaar. Sy is nasiener van matriekvraestelle reeds vir 6 jaar. Sy is ook jeugberader vir meer as 4 jaar, help met remediërende onderwys vir meer as drie jaar, en was een van vier onderwysers in Noordwes wat deur die PU vir CHO en POK gekies is vir die maak van videolesings. Sy is ook aangewys as medeskrywer en samesteller van ‘n bundel vir Graad 8 Engels Eerste Taal onderrig.

Inge Venter en haar man is Suid-Westers van geboorte en beide het hul laerskoolopleiding in Namibië gehad. Inge verwerf haar B.A. en H.O.D. aan die Universiteit van Pretoria. Sy behaal die grade B.Ed. en M.Ed. aan die PU vir CHO. Inge het 4 jaar hoërskool en 4½ jaar laerskool ervaring in die onderwys en is tans vakspesialis vir die PU vir CHO.

Wiskunde

Anemie Dason is ‘n besondere knap Wiskunde Onderwyseres en hanteer al ons Hoërskool Wiskunde. Sy behaal haar B.Sc., H.O.D. en gee Wiskunde vir Graad 12 HG en SG. Sy het 27 jaar ondervinding as ‘n Wiskunde Onderwyserers by verskeie skole. Sy het ook Natuurwetenskap in Grade 11 en 12 aangebied. Anemie is Departementshoof sedert 1989 en nasiener van matriekvraestelle vir 23 jaar.

Gert Jacobs is gebore in die Kuruman-distrik en matrikuleer aan die hoërskool Christiana. Hy studeer aan die Onderwyskollege van Pretoria en behaal die T.O.D. met lof in die hoofvakke Bedryfskennis, Wiskunde en Geskiedenis. Gert hou vir 22 jaar skool aan verskeie laerskole, waarvan die laaste 5 jaar as Adjunkhoof aan ‘n Laerskool in Potchefstroom.

Biologie

Dr. Johannes Van Rooyen matrikuleer aan die Hoërskool Bergsig in Rustenburg. Hy behaal B.Sc., B.Sc. Honneurs, M.Sc. en D.Sc. in Fisiologie aan die PU vir CHO. In 1975 word hy aangestel as junior navorsingswetenskaplike en word vervolgens bevorder tot navorsingswetenskaplike in 1978. In 1988 word hy aangestel as lektor en in 1989 as senior lektor in die departement fisiologie aan die PU vir CHO. Hy is ons voorsitter vir die kurrikuleringskomitee van Biologiese Wetenskappe.

Tegnies

Moria bied die volle spektrum tegniese vakke aan. Dit sluit in: Technika Elektries, Technika Meganies, Technika Siviel, Pas- en Draaiwerk, Motorwerktuigkundige, Sweis- en Metaalwerk en Boukonstruksie. Leerders doen hul praktries in sentrums soos vooraf bepaal. Die akademiese teoriepunt moet saam met ‘n praktiese punt vir bevordering aangebied word.

Europese Tale

Moria is tans in onderhandeling met ‘n taalskool van ‘n Universiteit vir die skryf van nuwe handboeke vir Europese tale vir tuisskolers.

Simitiese Tale

Prof. Jan Kroeze het in 1976 by die PU vir CHO vir B.A. (Voorteologie) in geskryf. Hy behaal die graad met Semitiese Tale, Grieks en Latyn as hoofvakke. Daarna verwerf hy ook B.A. Honneurs, Th.B. en M.A. in Semitiese Tale, almal met lof, asook Ph.D. Prof. Kroeze lewer gereeld referate op nasionale en internasionale kongresse en skryf ook artikels in boeke, op sy vakgebied. Hy is lid van die “Society of Biblical Literature (VSA)” en die “National Association of Professors of Hebrew (VSA)”.

Junior Primêr

Marietjie Richter is die Skoolhoof van die Potchefstroomse Christenskool. Sy matrikuleer op Carletonville Hoërskool, behaal die kwalifikasie H.O.D. in Junior en Senior Primêr by die POK en Onderwyskollege vir Verdere Opleiding.

Helena De Villiers is goed toegerus vir die skryf van Graad 1 en ook die redigering van die ander vakke en grade. Sy het deeglike ervaring van die beginsels van kleuter en Junior Primêre ontwikkeling bekom met die onderrig van haar 3 kinders. Sy tuisskool haar kinders reeds 4 jaar lank. Toe sy haar oudste kind begin tuisskool het, was daar nog geen Afrikaanse stelsel van hoë akademiese standaard op die mark nie. Sy het toe die tradisionele TOD stelsel bekom en sistematies begin verryk, met die hulp van arbeid-, spraak-, en fisioterapeute. Sy het ook baie verskillende onderrigstelsels beproef ter wille van die stimulering en ontwikkeling van haar kinders, bv. Montessori, “Portage” uit Brittanje, “Bliss”, enkeles uit Israel en ander. Helena was ook ‘n baie suksesvolle onderwyseres wat vroeër Wetenskap en Wiskunde vir Graad 8-12 aangebied het, terwyl sy ook verantwoordelik was vir die ontwikkeling van nuwe kursusse in haar vakgebied.

Myrtle en haar man, Tom Erasmus, is deel van die Moria Onderneming. Sy matrikuleer in 1970 op Lindley en voltooi T.H.O.D. op POK in ‘n gekombineerde kursus van Junior Primêr en Pre-Primêr. Sy het altesaam 16 jaar ondervinding as onderwyseres in Primêre en Pre-Primêre skole. Sy behartig ons graad 1 evaluering en het ook gehelp met die samestelling van die graad 0 pakket.

Hanlie Degenaar is ons spraakterapeut en oudioloog. Sy het die graad Logopedika volooi aan UP, waarna sy by die Onderwys Hulpsentrum vir 4 jaar gewerk het. Sy het in 1992 haar eie privaatpraktyk begin en ook deeltyds in die Provinsiale Hospitaal gewerk. Sy het toe die H.O.D. Pre-Primêre Diploma voltooi en verskeie kursusse in alternatiewe en aanvullende kommunikasie gedoen. Hanlie is ook as neuro-ontwikkelingsterapeut gekwalifiseer. Sy het saam met Moria die Ouditiewe Persepsieprgram ontwikkel en adviseer deurentyd ons Junior Primêre Ontwikkelings.

Bybelstudie

Dit word deur Tannie Elize Loots hanteer. Sy het ‘n Onderwys Diploma in Musiek en het 20 jaar Onderwyservaring. Sy staan in haar gemeente bekend as “Tannie Storie”, want die Here het werklik aan haar die gawe geskenk om stories vir die kinders te skep en te verwerk. Haar stories word as gebruik by die Christen Uzbekkinders, hospitaal se kindersaal tydens hospitaalbesoeke en ook die kinders in Malawi. Sy skryf ook die stories vir die gesinsbybelstudies van Moria.