SUID-AFRIKAANSE MILIEU


‘n Belangrike ontwikkelingstadium van ‘n kind, is die tyd wanneer hy ontdek wie hy is. Sonder ‘n kultuurskat waarmee ‘n kind hom kan identifiseer, kan hy nie sy Bybelse kultuurskeppingsopdrag, soos gevind in die Woord, ná die Toring van Babel en in Handelinge 17:26, volbring nie. Paulus was ook besorg oor sy volksgenote (kultuurgenote) in Romeine 9:1-3. Daarom ontwikkel Moria vir Afrikaners, onderrigmateriaal in Afrikaans, soos wat ons dit ook graag sou wou sien gebeur by elkeen van die ander taalgroepe in hul eie tale.

Geskiedenis is van kardinale belang en die geskiedenis van onder andere die Afrikanervolk word onderrig deur gebruik te maak van die handboeke van skrywers met 'n eie kultuursentiment.

Engelse onderwysstelsels is gewoonlik in die buiteland ontwikkel en is nie eg Suid-Afrikaans nie. Baie Engelse tuisonderwysstelsels se geskiedenis (bv. Amerikaanse volksplanting), aardrykskunde (bv. klimaatstreke in die VSA), natuurstudie (bv. boerderystreke in Brittanje) en biologie (bv. ysbere en dennewoude) ens., is nie eie aan Suid-Afrika nie. Ouers besef ook soms te laat dat die standaard van sommige buitelandse stelsels se wiskunde en natuurwetenskappe net nie opweeg teen dié van die vroeëre Suid-Afrikaanse onderwysstelsel nie en dan word daar maar weer op die ou end teruggeval na die Suid-Afrikaanse konsep van wiskunde op ‘n hoër akademiese standaard en deur medium van Afrikaans as moedertaal.