GELDIGHEID VAN MORIAKWALIFIKASIES


Volgens die Suid-Afrikaanse Skolewet, Wet 84 van 1996 word ouers in artikel 51 'n geleentheid gegee om 'n kind te registreer "vir onderwys tuis". Hierdie artikel vereis dat die onderwys van so 'n kind aan die minimum vereistes van die kurrikulum en standaard van openbare skole moet voldoen. Die beleid van Moria Tuisskoolmateriaal is om te vertrek vanaf die kurrikulum van die vorige Onderwysdepartement en daarop te verbeter. Nuwe kurrikulumbenaderings wat deur die Onderwysdepartement voorgeskryf word, word wel geakkommodeer, indien dit ‘n verbetering van die bestaande stelsel is, maar ons gee nie toe op ons morele waardes en akademiese standaarde nie. Ons materiaal word deur die Departement erken en provinsiale onderwysdepartemente wat ons materiaal gesien het, beveel ons reeds by tuisskoolouers as kurrikulumverskaffer aan.

Voorgeskrewe materiaal en die assesseringseksamens oorskry dus normaalweg die standaard van openbare skole. Gewoonlik het skoolhoofde ook geen probleem om leerders uit ons stelsel terug te neem in hul openbare skole nie.

Ons matrieksertifikaat, wat deur die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) aangebied word, word deur die Onderwysdepartement (UMALUSI) geëndosseer en daarom landwyd deur elke universiteit erken. Net soos enige staatskool matrikulant, moet ons leerders die korrekte vakke kies en simbole behaal soos deur die spesifieke universiteitsfakulteite voorgeskryf, as toelatingsvereiste. Elke ander opleidings-instansie het sy eie toelatingsvereistes.